SUURPENS BY SKAPE


09 Aug
09Aug

Huidiglik gaan die Karoo deur een van die ergste en langste droogtes nog. Plant, dier en mens kry swaar en gaan gebuk onder die droogte. Die gevolg is dat meeste skape (asook bokke) nie meer in die veld wei nie maar op kraal staan om gevoer te word. Dit bring weer sy eie probleme.



Ek sien baie skape die afgelope paar maande wat suurpens ontwikkel. Die gevolg is dooie skape of as hulle herstel, probleme soos laminitis. Die belangrikste om te onthou: As jy met ‘n herkouer boer, boer jy in der waarheid met die grootpens (rumen) en die organismes daarin. Dit is basies die enjin wat die dier aan die gang hou, as die organismes dood is, is die dier dood.

Die normale pH van die rumen moet tussen 6.4 – 6.8 wees. Met enige lae-vesel koolhidrate (Mielies, koring, lae-vesel molasse, hawer, rog, graansorgum ens.) is daar ‘n hoë risiko vir die ontwikkeling van suurpens indien dit nie in die regte verhouding met ander voere (veral ruvoer) of in oormaat ingeneem word. Hierdie koolhidrate word gefermenteer na melksuur in die grootpens en dit laat die pH val, wat op sy beurt weer die pH van die bloed laat val en veroorsaak dat die organe faal (nie meer hulle funksie kan verrig nie.)

Almal ken die woorde: ”Voorkoming is beter as genesing.” In geval van suurpens is dit baie waar. Suurpens kan voorkom word deur ‘n paar belangrike bestuurs-aspekte te onthou en toe te pas: 

            1. Die organismes in die grootpens vat 3 weke om aan te pas, maar verloor hulle aanpassing in 3 dae (baie belangrik om te onthou met die voer van ureum). Dit beteken ‘n geleidelike aanpassing in die hoeveelheid koolhidrate wat gevoer word en frekwensie darvan moet konstant wees. Byvoorbeeld: Begin week 1 met 50g mielies per dier elke 2de dag, 100g week 2, 150g week 3 en bly by elke 2de dag (slegs ‘n voorbeeld).


            2. Maak seker daar is genoeg voer spasie. Alle diere moet gelyktydig kan eet. Byvoorbeeld: As u 150 skape het, maak seker dat daar nie net voerspasie is vir 50 nie. Van die diere gaan hulle oorvreet en suurpens ontwikkel. Dit is gewoonlik die sterkste/dominante diere wat die ander wegstamp en die swakkes se porsie ook eet, wat suurpens ontwikkel.


             3. Maak seker daar is ruvoer beskikbaar vir die diere. Onthou herkouers (skaap, bees, bok, meeste wild spesies – bokke, kameelperde, buffels) is nie varke nie. Herkouers is gemaak om ruvoer om te skakel in vleis. Enige byvoeding, bv. Pille, kragvoer ens. moet met wysheid en versigtigheid gegee word.


Met akute gevalle moet behandeling vinnig geskied. Voerkalk is vir u as boer die vinnigste en maklikste om in te gee om die pH weer te laat styg en die suurheid teë te werk. As u slegs koeksoda het, kan u dit ook doen, maar koeksoda veroosaak baie gas wat tot opblaas kan lei. 

Ek sal in die toekoms uitbrei oor die ander nagevolge wat suurpens tot gevolg kan hê indien dit chronies raak of indien die dier herstel.


Vriendelike groete

Dr. Bennie Grobler

Beaufort Diereklineik

Comments
* The email will not be published on the website.